24 Januarie 2010    
Durbanville area en Wellington  
   
 

Ons het besluit om die naweek net rustig by die huis te spandeer en Saterdag agtermiddag, terwyl ons besig was om te swem wys Melissa my 'n roofvoël wat sy nie ken nie. Dit was die ligte vorm Dwergarend en dalk dieselfde een wat ek die vorige naweek in die Durbanville omgewing gesien het.Ek is soos 'n pyl uit 'n boog uit die swembad en in die motorhuis in om my kamera uit die kar te gaan haal. Toe ek terugkom was die Dwergarend al vêr noord en net toe ek dink dat ek te laat was vir 'n foto draai die arend om en sweef al die pad weer terug tot waar ek dit die eerste keer gesien het en kry ek toe darem my foto. Dit was my eerste Dwergarend vanuit my agterplaas en miskien moet ek ook begin met so 'n "back yard ticklist" :-) Ek het Sondagoggend weer in die Durbanville platteland en Philidelphia omgewing 'n draai gaan ry met die hoop dat ek dalk iets nuuts sou sien en toe gebeur dit ook so. Dit was nou wel nie 'n nuwe spesie nie, maar toe ek amper weer terug was by die huis naby Durbanville, sien ek die grootste groep Witborskraaie wat ek al ooit gesien het. Nadat ek die kraaie op my foto getel het dink ek dat dit in die omgewing van 120 na 150 kraaie moes gewees het. Hulle het almal net saamgesweef. Ek het vroeër die oggend op 'n baie vêr afstand gesien hoedat 'n groot groep van sowat 15 na 20 Witborskraaie saam met 'n onvolwasse Visarend gevlieg het. Dit het darem my oggend gemaak en ek is terug huistoe vir oggendete. Sondagaand is ek Wellington toe om my eerste Kleinrooivalkie te gaan soek en Melissa en Makayla het saamgekom. Sowat 10km voor Wellington het ons gestop en het net daar ons eerste Kleinrooivalkies gesien. Daar was 'n klein groepie van tussen 2 en 8 wat oor 'n landery gejag het in die laatmiddag son. Ons is na 'n hele rukkie se dophou na die Kleinrooivalk oornagplek, waar ons nog heelwat meer(sowat 100) van die Kleinrooivalke gesien het, maar glad nie so baie soos wat ek verwag het om te sien nie. Ek het besluit om dit maar halt te roep toe die lig te sleg begin raak en ons is toe terug huistoe. Ons het die Kleinrooivalkies geniet en ek was bly dat ons langer hulle sestaan en dophou het toe hulle gejag het in die laatmiddagson en dit was interessant om te gesien het hoe hulle sommer so in die lug vreet. Daar was selfs 'n gelukkige muisie wat so 'n meter bokant die grond dit kon regkry om te ontsnap vanuit die kloue van 'n Kleinrooivalk. Dit was die eerste keer dat ek sien hoe 'n muis in "mid-air" ontsnap, nadat dit klaar opgeraap is. Ander hoogtepunte vir die naweek sluit in die Visarend wat ek vroër die oggend gesien het asook 'n Gewone Spekvreter, wat ek nie elke dag so nay aan die huis sien nie. Die Blouvalk wat 'n muis op 'n telefoondraad gesit en vreet het was ook 'n hoogtepunt. Gewoonlik sit hulle mos op 'n paal en vreet, maar gelukkig vir my het dié een besluit om die muis sommer so op 'n draad te sit en vreet en kon ek mooi die muis ook in die foto kry. Die foto van die onvolwasse Bruinjakkalsvoël hieronder is nie een wat geroep het nie, maar eerder een wat besig was om die laaste bietjie van sy kos af gesluk te kry. Ek kan nie verseker sê nie, want hy het reeds gesit en sluk toe ek langs die voêl gestop het. Wel, soos gewoonlik en soos dit mos hoort was dit lekker om met 'n lifer terug te keer huistoe al is dit in die vorm van die Kleinrooivalk, wat eintlik so 'n maklike "tick" is dat dit eintlik snaaks was dat ek dit nog nie gehad het nie. Die kinders was natuurlik ook baie in hulle noppies met die Kleinrooivalkies en Melissa was ongetwyfeld my hero vir die naweek, nadat sy my daardie asemrowende Dwergarend gewys het vanuit ons agterplaas. :-)

   

     
Skoorsteenviër Witborskraai Swartkopreier
     
Vleitinktinkie Europese Swael Gewone mossie - onvolwasse
     
Rooikoplewerik Landeryklopkloppie Europese Spreeu - semivolwasse
     
Swerfvalk Kransvalk Bruinjakkalsvoël - onvolwasse
     
Dwergarend Blouvalk Rooiborsduifie
     
Gewone Spekvreter Bloukraanvoël Kaapse Wewer
     
Kleinrooivalk Kleinrooivalk Kleinrooivalk